Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 2 JULIE 2017

Goeie môre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

70STE HERDENKING VAN ONGEBROKE LIGA LIDMAATSKAP

DIE ZS5 NAELLOOP VANMIDDAG

en

DIE IARU HF KAMPIOENSKAPPE VOLGENDE NAWEEK

Bly gerus vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

70STE HERDENKING VAN ONGEBROKE LIGA LIDMAATSKAP

Die President, die Raad en die Lede van die Suid-Afrikaanse Radio-liga wens Dennis Wells, ZS1AU en Artie Perold, ZS1HL, baie geluk op 70 jaar ongebroke liga-lidmaatskap soos op 1 Julie 2017.

Dit is nogal 'n prestasie, knap gedaan Dennis en Artie!

DIE ZS5 NAELLOOP VANMIDDAG

Nog ‘n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in Kwazulu-Natal en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder is die ZS5 Naelloop. Die Naelloop is vanmiddag van 14:00 to 15:00 UTC op die lug.

ZS5 stasies sal ‘n RS of RST verslag en hul dorp se naam of afkorting gee. Alle ander stasies sal ‘n RS of RST verslag en hul provinsiale of landsafkorting gee. Die ZS5 Naelloop is ‘n foon en gelykgolf kompetisie op die 40 meter band met 7 000 to 7 040 kHz vir gelykgolf en 7 063 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz vir foon.

ZS5 stasies kry 1 punt vir ‘n QSO met ‘n ZS5 stasie en 2 punte vir ‘n QSO met ‘n stasie in ander ZS roepareas of Suider-Afrikaanse lande. Alle ander stasies kry 2 punte vir ‘n QSO met ‘n ZS5 stasie en 1 punt vir ‘n QSO met stasies in hul eie of ander ZS roepareas (uitgesluit ZS5) of Suider-Afrikaanse lande. QSOs met die Higway ARK, ZS5HAM, die Durbanse ARK, ZS5D, die Hibiscus-kus ARK, ZS5HAC, die Zululand ARK, ZS5ZLB, die Midlands ARK, ZS5PMB, of die Noord Natal Amateurradioklub, ZS5NAK, is 5 punte elk. Net een kontak per stasie word toegelaat.

Logstate in die ADIF, Cabrillo of MS Excel formaat en gemerk “jou roepsein ZS5 Naelloop” moet ingedien word teen 10 Julie 2017 per e-pos aan zs5contest@harc.org.za. ‘n Sertifikaat word toegeken aan die eerste, tweede en derde plek in die kompetisie.

GAUTENG AMSAT SA / SARL SDR WERKSWINKEL GESKUIF TOT 19 AUGUSTUS

Die datum vir die Gauteng AMSAT SA/SARL SDR werkswinkel is met een week aangeskuif na Saterdag 19 Augustus 2017. Die verandering was nodig om te verseker dat albei dongels wel betyds beskikbaar sal wees. Die progam word in twee dele aangebied. Van 9 tot 11 vm fokus die werkswinkel op die BHF/UHF dongel met onderwerpe soos die ontvangs van amateur satelliete, die ontvangs van weer satelliete en sommige amateur astronomie projekte en antennas.

Die tweede deel van 11 vm tot 2 nm fokus op die HF dongel, RF geraasvlak monitering en die outomatiese opneem van data.

Die finale datum vir die werkswinkel in Kaapstad, wat hoofsaaklik op die BHF/UHF dongel sal fokus, is nog nie vasgestel nie. Deon Coetzee, ZR1DE, beplan die werkswinkel vir mid-September 2017. Om ingelig te bly aangaande die werkswinkels, stuur ‘n e-pos aan admin@amsatsa.org.za en jou naam sal by die lys gevoeg word.

DIE IARU HF KAMPIOENSKAPPE VOLGENDE

Die IARU HF Kampioenskappe vind plaas oor die tweede volle naweek in Julie, van 12:00 UTC op die Saterdag tot 12:00 UTC op die Sondag. Hierdie kompetisie vind vanjaar plaas op 8 en 9 Julie 2017. Beide enkel en multi-operateur stasies kan die hele 24-uur tydperk bedryf word. Die doel van die kompetisie is om soveel ander amateurs, veral die IARU lidlande Hoofkwartier stasies, oor die wêreld as moontlik met foon of gelykgolf te werk op die 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter bande.

IARU lidlande HK stasies stuur ‘n sein verslag en amptelike IARU lidland afkorting, bv. 599 SARL. IARU Internasionale Sekretariaat-klubstasie NU1AW tel as ‘n HK stasie. Lede van die IARU Administratiewe Raad en die drie IARU-streeksuitvoerende komitees stuur “AC”, “R1”, “R2” en “R3” soos toepaslik, bv. ZS4BS sal 59 R1 stuur. Alle ander stuur ‘n sein verslag en ITU-sone, vir Suid-Afrika is dit Sone 57. ‘n Volledige uitruiling moet vir elke geldige QSO aangeteken word. Vind al die reëls by www.arrl.org/iaru-hf-championship.

Jy luister aan ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

JULIE RADIO ZS KAN AFGELAAI WORD

Die Julie 2017-uitgawe van Radio ZS is beskikbaar vir aflaai van die liga se webblad. Dennis, ZS4BS vertel jou hoe hy die SARL Nasionale Konvensie sien. Tim, ZS6IM, vertel van Radio Praag teenoor die Russiese Beer en Chris, ZS6EZ, neem jou deur die Arabiese Nagte. Vind meer uit oor die 50 vuurtorings rondom die kus en die Internasionale Vuurtoring en Vuurskip Naweek. Die Pretoriase ARK het 'n spesiale tee vir hul veterane aangebied - baie foto's. Lees ook BHF Nuus deur Mike, ZS2FM en CQ Contest deur Dennis, ZS4BS.

BAKEN NUUS

Ons span entoesiastiese baken operateurs is steeds besig om te groei. Gedurende die afgelope week, het Dez Bryington, ZS6DEZ, en Connel Paul, ZS6CNP, ‘n Arduino met ‘n RF skild op die lug gekry. Die baken is deur Leon Uys ZR6LU op 14,097 MHz met ‘n sein-geraas verhouding van -25 dBm ontvang oor ‘n afstand van omtrent 100 km. Dez sê dat die sagteware hom aan die begin vele kopsere gegee het, maar nou dat dit werk, beplan hy om die uitset te verbeter sodat hy verder ontvang kan word. ‘n Foto van hierdie opwindende prototipe is op die WhatsApp groep versprei. Amateurs wat belangstel om hul baken ondervindings te deel, is welkom om Leon Uys, ZR6LU, op 082 573 5580 te kontak.

WAAROM ELKE GELISENSIEERDE RADIO AMATEUR DIE IARU MOET STEUN?

Toe AM uitsendings na die Eerste Wêreldoorlog ingestel is en amateur radio regoor die wêreld verban is, het regerings begin besef dat die radio spektrum waardevol is. Dit was ‘n roep tot aksie aan alle radio amateurs. Om te bestaan, het Amateur Radio toegang nodig tot die radio frekwensie spektrum andersins is ons toerusting nutteloos, soos ‘n boot sonder water. Die Amerikaanse Radiorelêliga (ARRL) met hul president Hiram Percy Maxim, 1AW, het by die VSA Kongres gepleit vir amateur radio spektrum. In Oktober 1919 het die VSA regering al die nuttelose golflengtes onder 200 meter aan die radio amateurs in die VSA toegestaan. Kort daarna het talle ander lande in die wêreld dieselfde gedoen. Lees die volle storie in die Julie uitgawe van Radio ZS.

MEENTHUIS BEWONERS EN DIE PROBLEEM MET GERIGTE ANTENNES

Talle radio amateurs wat in meenthuis komplekse woon, is beperk en mag nie eens klein BHF Yagi rigstraler antennas oprig nie. Indien hulle gelukkig is, mag hulle dalk ‘n klein vertikale antenna oprig vir die herhalers. Ongelukkig beroof hierdie beperking ywerige BHF entoesiaste daarvan om uit hul eie agterplaas te kom en ook verafgeleë BHF stasies te kontak. Die vraag is wat kan hulle hieromtrent doen?

Daar is moontlik ‘n paar antwoorde op hierdie probleem. Eerstens, probeer om ‘n vyf-element horisontale Yagi vir 144 MHz in die dak van jou meenthuis te installeer. Rig die antenna in die vereiste rigting. Indien daar genoeg spasie is, installeer ‘n tweede Yagi en rig dit in ‘n ander rigting, maar gebruik twee aparte koaksiale kabels. Indien jy steeds toestemming benodig om dit te doen, pleit baie mooi by die meenthuis komitee en probeer hulle oortuig dat dit nie sigbaar sal wees aan die meenthuis bewoners wat gewoonlik kla nie en ook niemand sal benadeel nie.

Tweedens, indien jy belangstel in 50 MHz, kan jy ‘n horisontale lus so hoog as moontlik in die dak span. ‘n Alternatief is om ‘n drie-element Yagi tussen die dakbalke te installeer. Derdens kan jy ‘n vlagpaal buite jou meenthuis oprig. Gebruik ‘n los pyp om die vlagpaal wat aan die vlagtou vasgemaak is. Snags kan jy jou 144 MHz vyf-element Yagi op die los pyp monteer en dit tot bo-aan die vlagpaal hys. Na jou QSOs kan jy weer die antenna laat sak en verwyder. Jy kan selfs ‘n vlag hys indien jy wil.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 20 en 30 m bande verwag. Plaaslik gaan 60 m gedurende die dag die beste voortplanting oor korter afstande oplewer. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

Vanmiddag – die ZS5 Naelloop
8 en 9 Julie – die IARU HF Kampioenskappe
14 tot 16 Julie – Ham Radio 2017 te Friedrichshafen, Duitsland
15 Julie – die RaDAR Uitdaging
15 Julie – die SARL Winter QRP Kompetisie
23 Julie – die ZS2 Naelloop
29 en 30 Julie – die RSGB IOTA Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoofberig:

Die President, die Raad en die Lede van die Suid-Afrikaanse Radio-liga wens Dennis Wells, ZS1AU en Artie Perold, ZS1HL, baie geluk op 70 jaar ongebroke liga-lidmaatskap soos op 1 Julie 2017.

Dit is nogal 'n prestasie, knap gedaan Dennis en Artie!

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003